close
Gaan na inhoud

Adoelis

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Adoelis
𐩱 𐩵 𐩡 𐩪
ኣዱሊስ
'n 5de-eeuse Bisantynse Christelike basilika by Adoelis wat in 1914 opgegrawe is.
'n 5de-eeuse Bisantynse Christelike basilika by Adoelis wat in 1914 opgegrawe is.
LandEritrea
SoortAntieke hawestad
Geskiedenis
KultureAksoemities

Adoelis (Sabees: 𐩱 𐩵 𐩡 𐩪; Ge'ez: ኣዱሊስ; Grieks: Ἄδουλις)[1]) was 'n antieke stad aan die Rooisee in die Golf van Zoela. Die stad se ruïne lê in die moderne Eritrese stad Zoela. Dit was 'n hawestad wat beskou is as deel van D'mt en die Koninkryk Aksoem. Dit was naby Griekeland en die Bisantynse Ryk geleë, en was 'n belangrike handelspos met luuksegoedere. Sy ligging kan ingesluit word in wat die Antieke Egiptenare die land Poent genoem het.[2]

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

In argeologiese opgrawings by Adoelis is die bestaan van 'n prehistoriese nedersetting onder die dorp ontdek wat uit die middel 2de millennium v.C. tot vroeë 1ste millennium v.C. dateer. Adoelis kan ooreenstem met Wddt, 'n streek wat in Egiptiese geografiese lyste van die 18de Dinastie (omstreeks 1450 v.C.) opgeneem is as deel van die land Poent.[3]

Plinius die ouere is die eerste Europese skrywer wat Adoelis noem (N.H. 6.34). Dit word ook genoem in die Periplus van die Eritrese See, 'n gids van die Rooisee en Indiese Oseaan. Laasgenoemde noem die nedersetting as 'n handelspos vir die ivoor, velle, slawe en ander uitvoergoedere uit die binneland. Roemeinse handelaars het die hawestad in die tweede en derde eeu n.C. gebruik.[3]

Adoelis word beskryf in die 1ste-eeuse Periplus van die Eritrese See.

Die handelaar-reisiger Kosmas Indikopleustes het die nedersetting in 520 n.C. besoek, tydens die bewind van koning Kaleb van Aksoem. Hy skryf van twee inskripsies wat hy daar gekry het: Die eerste vertel hoe farao Ptolemeus III Euergetes (247-222 v.C.) oorlogsolifante van hier gebruik het om oorwinnings in sy oorloë oorsee te behaal.[4][5] Die tweede een, bekend as die Monumentum Adulitanum, is in die 27ste jaar van 'n koning van Aksoem geskryf (dalk Gadarat).[6] Hy spog daarin oor sy oorwinnings in Arabië en Noord-Ethiopië.[7]

Adoelis se laaste jare is geheimsinnig. Yuri Kobishchanov meen Adoelis is later deur Moslems verwoes, en dit het Aksoem se vlootmag beëindig en bygedra tot die koninkryk se afsondering. Tradisioneel word beweer die nedersetting is in 640 n.C. deur 'n Arabiese inval vernietig, maar die bewyse is onafdoende. Hoewel tekens van vuur in opgrawings ontdek is, wys historiese rekords die Arabiese inval het misluk. Wat ook al die rede, Aksoen se vlootmag het afgeneem en die hawe van Adoelis is omstreeks die 8ste eeu verlaat.[3]

Argeologiese opgrawings

[wysig | wysig bron]
Argeologiese opgrawings by Adoelis in 1907.

Adoelis was een van die eerste Aksoemitiese terreine waar opgrawings gedoen is, toe 'n Franse sending na Eritrea in 1840 'n aanvanklike opname gedoen het. Hulle het 'n kaart opgetrek met drie strukture wat hulle geglo het tempels is. In 1868 het werkers wat lid van 'n Britse veldtog teen Tewodros II was, Adoelis besoek en verskeie geboue ontbloot, insluitende 'n Bisatynsagtige kerk.

Die eerste wetenskaplike opgrawings is in 1906 gedoen, onder toesig van Richard Sundström. Sundström het in die noordelike sektor van die terrein gewerk en 'n groot struktuur ontbloot wat hy die "paleis van Adoelis" genoem het, sowel as voorbeelde van Aksoemitiese geldstukke.[8]

Die volgende jaar het die Italiaan Roberto Paribeni opgrawings gedoen en baie strukture ontdek soortgelyk aan dié wat Sundström vroeër gevind het, sowel as 'n paar gewone huise. Hy het ook baie stukke erdewerk ontdek, selfs wynbekers.[9] Meer as 50 jaar het verloop voor die volgende reeks opgrawings, in 1961 en 1962 deur die Ethiopiese Argeologiese Instituut. Hulle het nie net materiaal ontdek wat die terrein aan die Koninkryk Aksoen verbind nie, maar ook 'n laag wat op verwoesting dui.

Sedert die Eritrese onafhanklikwording het die Nasionale Museum van Eritrea 'n beroep op die regering van Ethiopië gedoen om artefakte van dié opgrawings terug te gee, maar dit is tot dusver geweier.[10]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "Stephanus of Byzantium, Ethnica, §A26.18". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Desember 2019. Besoek op 19 Januarie 2020.
  2. Manzo, Andrea; Zazzaro, Chiara; Falco, Diana Joyce De (26 November 2018). Stories of Globalisation: The Red Sea and the Persian Gulf from Late Prehistory to Early Modernity: Selected Papers of Red Sea Project VII. BRILL. ISBN 9789004362321. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Julie 2024. Besoek op 18 Mei 2021 via Google Books.
  3. 1 2 3 Uhlig, Siegbert (2003). Encyclopaedia Aethiopica: A-C. p. 104.
  4. Pfeiffer, Stefan: Griechische und lateinische Inschriften zum Ptolemäerreich und zur römischen Provinz Aegyptus. Münster: Lit, 2015, p. 56-61.
  5. Rossini, A. (Desember 2021). "Iscrizione trionfale di Tolomeo III ad Aduli". Axon. 5 (2): 93–142. doi:10.30687/Axon/2532-6848/2021/02/005. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Oktober 2022. Besoek op 28 Oktober 2022.
  6. Bowersock, Glen Warren (2013). The throne of Adulis: Red Sea wars on the eve of Islam. Emblems of antiquity. Oxford New York: Oxford University Press. p. 58. ISBN 978-0-19-973932-5.
  7. Peter Thonemann, "Gates of Horn", p. 9
  8. Gepubliseer as deel van Enno Littmann, "Preliminary Report of the Princeton University Expedition to Abyssinia with a contribution by Richard Sundström" Geargiveer 13 Junie 2021 op Wayback Machine, 20 (1907), pp. 172-182
  9. Paribeni in Adulis Geargiveer 11 Julie 2013 op Wayback Machine
  10. "Eritrea wants artefacts back". 2 Oktober 2005. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Junie 2006. Besoek op 5 Februarie 2007.

Nog leesstof

[wysig | wysig bron]
  • G.W. Bowersock. The Throne of Adulis: Red Sea wars on the eve of Islam. Oxford: University Press. 2013. ISBN 978 0 19 973932 5
  • Stuart Munro-Hay. Aksum: An African Civilization of Late Antiquity. Edinburg: University Press. 1991. ISBN 0-7486-0106-6
  • Yuri M. Kobishchanov. Axum (Joseph W. Michels, red.; Lorraine T. Kapitanoff, vert.). University Park, Pennsylvania: Pennsylvania State Univ. Press, 1979. ISBN 0-271-00531-9
  • David Peacock en Lucy Blue (red.) The Ancient Red Sea Port of Adulis, Eritrea (Oxford: Oxbow, 2007) ISBN 978-1-84-217308-4

Skakels

[wysig | wysig bron]