close
Gaan na inhoud

Ghienie

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
'n 5 Ghienie-munt in 1688 tydens Jakobus II van Engeland se bewind.

Die ghienie is ‘n eertydse Engelse goue munt met die waarde van £1 en 1s. (een pond en een sjieling).

Die eerste ghienie is in 1663 gemunt uit goud verkry uit Guinee vir gebruik in die handel met daardie land. Omdat die prys van goud geskommel het, was die waarde van die munt dus nie vas nie. Eers in 1717 is dit vasgestel op 21 sjielings, d.w.s. een pond sterling en een sjieling. Selfs muntstukke van 2 en 5 ghienies en ‘n ½ ghienie en ‘n ¼ ghienie is ‘n tyd geslaan.

Nadat die maak van die ghienie-munte met die invoering van die goue pond in 1817 gestaak is, het dit egter onder die publiek geruime tyd ‘n rekeneenheid gebly. Veral dokters, advokate en ander professionele persone het nog rekeninge in ghienies geskryf. Ook by die verkoop van grond en kunswerke was dit die gebruik. Die rekeninge was dus altyd in veelvoude van 21 sjielings. (Daar as 20 sjielings in die pond.)

Na die Britse oorname van die Kaap in 1806 het die waarnemende goewerneur David Baird die wisselkoers tussen die Nederlandse munte wat in omloop was en die nuwe Engelse ghienies, sjielings en pennies vasgestel. Met die invoering van die desimale geldstelsel in Suid-Afrika in 1961 het die gebruik van die ghienie as rekeneenheid in onbruik verval.