close
Gaan na inhoud

Dogecoin

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Die logo van Dogecoin is 'n Shiba Inu-hond.

Dogecoin (Ð) is 'n kriptogeldeenheid wat in Desember 2013 geskep is as 'n grap, gebaseer op 'n internetmeme van 'n Japennese Shiba Inu-hond genaamd Kabosu.[1] Oorspronklik bedoel as 'n parodie op Bitcoin, het Dogecoin oor die jare aandag getrek en gewild geword as gevolg van sy gemeenskapsgedrewe kultuur en aanvaarding op sekere aanlynplatforms.[2]

Dogecoin is geskep deur IBM-sagteware-ingenieur Billy Markus en Adobe-sagteware-ingenieur Jackson Palmer. Die kriptogeldeenheid is amptelik bekendgestel op 6 Desember 2013, en binne die eerste 30 dae het meer as 1 miljoen mense Dogecoin.com besoek.[3]

Nuwe Dogecoins word gegenereer deur middel van bewys van werk, en die mynbou-algoritme word Scrypt genoem, dieselfde algoritme wat in Litecoin gebruik word. Dogecoin het begin met ’n beoogde aanbodlimiet van Ð100 miljard, wat aansienlik meer munte sou wees as wat die toonaangewende digitale geldeenhede destyds toegelaat het. Teen middel 2015 is die 100 miljardste Dogecoin gemyn, waarna ’n bykomende Ð5 miljard elke jaar in omloop gebring is. In Februarie 2014 het Palmer aangekondig dat die limiet nie in die kodebasis bygevoeg sou word nie, met die doel om oor tyd ’n konsekwente inflasiekoers te skep.[4]

In Januarie 2021 het Dogecoin binne 24 uur met meer as 800% gestyg en ’n waarde van $0,07 bereik, as gevolg van aandag van Reddit-gebruikers, deels aangemoedig deur Elon Musk en die GameStop kortdruk-aksie.[5]

Promosie deur Elon Musk

[wysig | wysig bron]
Elon Musk, die sogenaamde "Dogefather"

'n Groot rolspeler in Dogecoin se sukses was die Suid-Afrikaans-gebore entrepreneur, Elon Musk. Musk, die uitvoerende hoof van Tesla en SpaceX, het herhaaldelik Dogecoin bevorder deur middel van sosiale media. Hy het homself as die "Dogefather" bekroon, en sy tweets het dikwels groot stygings in die waarde van Dogecoin veroorsaak.[6] In een geval het hy selfs aangekondig dat Tesla Dogecoin vir sekere produkte sou aanvaar.[7]

Musk se invloed op die prys van Dogecoin was so merkwaardig dat hy as 'n sleutelrolspeler in die bevordering van die kriptogeldeenheid gesien word. Sy ondersteuning het gehelp om die muntstuk van 'n "grap" na 'n gesogte bate in die kriptomark te beweeg.

Op 14 November 2024 het die verkose president Donald Trump aangekondig dat Elon Musk en Vivek Ramaswamy aan die hoof sou staan van ’n nuwe Department of Government Efficiency (DOGE), ’n akroniem wat dieselfde naam as Dogecoin deel. Die prys van Dogecoin het kort daarna skerp gestyg.[8]

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Roose, Kevin (15 September 2017). "Is There a Cryptocurrency Bubble? Just Ask Doge". The New York Times. ISSN 0362-4331. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Oktober 2017. Besoek op 3 Oktober 2017.
  2. "Meet Dogecoin, The Meme Cryptocurrency". Forbes. 13 Mei 2024. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 Mei 2024.
  3. Noyes, Jenny (22 Januarie 2014). "An Interview With The Creator Of Dogecoin: The Internet's Favourite New Currency". Junkee. Junkee Media. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Januarie 2014. Besoek op 12 Januarie 2021.
  4. "Dogecoin to allow annual inflation of 5 billion coins each year, forever". Ars Technica. 3 Februarie 2014. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Februarie 2014. Besoek op 4 Februarie 2014.
  5. Kharpal, Arjun. "Reddit frenzy pumps up Dogecoin, a cryptocurrency started as a joke, by over 800%". CNBC. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Februarie 2021. Besoek op 29 Januarie 2021.
  6. "Elon Musk tweeted. Dogecoin surged more than 50%". CNN. 4 Februarie 2021. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 31 Oktober 2025.
  7. "Dogecoin spikes more than 20% after Elon Musk says Tesla will accept it as payment for merch". CNBC. 14 Desember 2021. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 September 2025.
  8. Macheel, Tanaya (13 November 2024). "Dogecoin spikes after Trump announces a Department of Government Efficiency — DOGE". CNBC (in Engels). Besoek op 10 Desember 2024.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]