Kriptogeld
Kriptogeld of kriptovaluta verwys na 'n digitale ruilmiddel en geldeenheid wat streng op kriptografie staatmaak om transaksies te beveilig en om die aantal bestaande eenhede te beheer.[1] Kriptogeld vorm dus 'n subversameling van alternatiewe geldeenhede. Bitcoin het die eerste gedesentraliseerde kriptogeld in 2009 geword.[2] Sedertdien is talle nuwe kriptogeldeenhede geskep. Die kriptogeld wat na Bitcoin geskep is, word in Engels dikwels altcoins genoem, 'n verkorting van alternative coin.
Agtergrond
[wysig | wysig bron]Kriptogeld is op kriptografie (versleutelingsstelsels) gebaseer en gaan gepaard met 'n skema wat gebruik word om die geld te genereer, die egheid te kontroleer en om daarmee te handel. In der waarheid ontstaan kriptogeld as gevolg van 'n versleutelde grootboek waarin alle transaksies gestoor word.
Elke keer wanneer 'n transaksie plaasvind, word dit tesame met ander intydse transaksies in versleutelde vorm in 'n sogenaamde blok gebondel wat aan die vorige, mees onlangse blok aangeheg word.
So word 'n ketting van blokke gevorm, wat begin by die heel eerste transaksie wat gedoen is. Hierdie blokketting vorm die tegniese daarstelling van die gedesentraliseerde grootboek wat alle transaksies bevat.
Die grootboek word dus aanhoudend met nuwe blokke versleutelde transaksies uitgebrei. Die grootboek (en onderliggende blokketting) word dus konstant groter soos wat mense transaksies doen.
Werkswyse
[wysig | wysig bron]
Kriptogeld gebruik verskillende skemas om gedesentraliseerde konsensus te bereik en 'n tydstempel af te druk, om sodoende op geen vertroude derdeparty hoef staat te maak wanneer transaksies aan die blokketting se grootboek geheg word nie.
In hierdie skema word die voorreg (en gepaardgaande werk en besoldiging) om die blokketting met 'n nuwe blok transaksies uit te brei aan die eerste sogenaamde "mynwerker" toegeken wat 'n baie moeilike wiskundige faktoriseringsprobleem oplos.
Hierdie faktoriseringsprobleem kan slegs met die brute berekeningskrag van 'n rekenaar gedoen word en kan 'n beduidende hoeveelheid tyd duur. Verskillende myners kompeteer dus met mekaar om te kyk wie hierdie probleem eerste kan oplos. Die myner wat dit eerste oplos, ontvang gewoonlik 'n betaling in die betrokke kriptografiese geldeenheid, of bekom die reg om nuwe kriptogeld te munt.
Die mees wydgebruikte bewys-van-arbeid skemas is op die SHA-256 (Secure Hash Algorithm) algoritme gebaseer en is deur Bitcoin en die skript algoritme, wat deur geldeenhede soos Litecoin gebruik word, bekendgestel.[3]
Bewys van aandeel
[wysig | wysig bron]Die bewys-van-aandeel (Proof of stake) metode om 'n kriptogeld en gepaardgaande netwerk te beveilig en om verspreide konsensus te bekom werk deur gebruikers te vra om te bewys dat hulle 'n sekere aandeel van die geldeenheid besit. Dit is dus 'n anders as die bewys-van-werk metode waardeur moeilike faktoriseringsprobleme opgelos word om elektroniese transaksies vas te lê. Hierdie skema is grootliks afhanklik van die kriptogeld se implementasie en daar bestaan tans geen standaardvorm daarvoor nie.
Kenmerke van kriptogeld
[wysig | wysig bron]Kriptogeld is ’n vorm van digitale bate wat kriptografie en verspreide grootboek-tegnologie gebruik om transaksies veilig te verwerk en nuwe eenhede te beheer [4] Anders as tradisionele geldeenhede word dit gewoonlik nie deur ’n sentrale bank of regering uitgereik of beheer nie.[5]
Een van die belangrikste kenmerke van kriptogeld is desentralisasie. Transaksies word deur ’n netwerk van rekenaars bevestig eerder as deur ’n enkele sentrale gesag.[6] Hierdie transaksies word aangeteken op ’n blokketting, ’n digitale grootboek wat openbaar en moeilik veranderbaar is.[7]
Kriptogeldeenhede maak gebruik van kriptografie om die veiligheid van transaksies te verseker en die sogenaamde “dubbele besteding”-probleem te voorkom.[8] Baie stelsels gebruik konsensusmeganismes soos "bewys vir werk" of "bewys van aandeel" om die netwerk te beveilig [9]
Nog ’n kenmerk is deursigtigheid, aangesien transaksies dikwels publiek op die blokketting sigbaar is. Terselfdertyd bied baie kriptogeldeenhede ’n mate van pseudonimiteit, omdat gebruikers deur digitale adresse eerder as persoonlike name geïdentifiseer word.[10]
Kriptogeld word ook gekenmerk deur wisselvalligheid, aangesien pryse dikwels vinnig kan styg of daal.[11] Verder is transaksies gewoonlik onomkeerbaar sodra dit op die blokketting bevestig is.[4]
Sommige ondersteuners beskou kriptogeld as ’n alternatief vir tradisionele finansiële stelsels, terwyl kritici daarop wys dat dit dikwels vir spekulatiewe beleggings gebruik word en beperkte regulatoriese beskerming bied.[12]
Sien ook
[wysig | wysig bron]Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Andy Greenberg (20 April 2011). "Crypto Currency" (in Engels). Forbes.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Mei 2020. Besoek op 8 Augustus 2014.
- ↑ Sagona-Stophel, Katherine. "Bitcoin 101 white paper" (PDF). Thomson Reuters.
- ↑ Wary of Bitcoin? A guide to some other cryptocurrencies, ars technica, 26-05-2013
- 1 2 Härdle, Wolfgang Karl; Harvey, Campbell R.; Reule, Raphael C. G. (2020). "Understanding Cryptocurrencies". Journal of Financial Econometrics. 18 (2): 181–208. doi:10.1093/jjfinec/nbz033.
- ↑ "What is bitcoin?". European Central Bank. 13 Februarie 2018. Besoek op 25 Mei 2026.
- ↑ "Bitcoin". Bitcoin Wiki. Besoek op 25 Mei 2026.
- ↑ "Bitcoin Whitepaper: Simplified for Everyone". CoinMarketCap. Besoek op 25 Mei 2026.
- ↑ "Market Capitalization". Coinmarketcap.com. Besoek op 10 Januarie 2018.
- ↑ Nicolini, Gianni; Intini, Silvia (16 Augustus 2023). The Cryptocurrency Phenomenon (in American English). Abingdon, Oxon New York, NY: Taylor & Francis. p. 53. ISBN 978-1-000-92384-1.
- ↑ "What is Bitcoin and How Does It Work?". CoinGecko. Besoek op 25 Mei 2026.
- ↑ "What is bitcoin?". European Central Bank. 13 Februarie 2018. Besoek op 25 Mei 2026.
- ↑ "Understanding the crypto-asset phenomenon, its risks and measurement issues". European Central Bank. Besoek op 25 Mei 2026.
Bronne
[wysig | wysig bron]- Wilmoth, Josiah. "What is an Altcoin?". cryptocoinsnews.com. Besoek op 4 Maart 2015.
- "Altcoin". Investopedia. Besoek op 8 Januarie 2015.