close
Gaan na inhoud

Onder-Sabie

Onder-Sabie
Onder-Sabie se restaurant vanaf die rivier gesien
Onder-Sabie se restaurant vanaf die rivier gesien
Land Suid-Afrika
Provinsie Mpumalanga
Naaste dorp Komatipoort
Ligging van Onder-Sabie op 'n kaart (Mpumalanga)
Onder-Sabie
Onder-Sabie
Ligging in Mpumalanga
Koördinate: 25°7′11″S 31°54′54″O / 25.11972°S 31.91500°O / -25.11972; 31.91500
Hoogte 174 m[1]
Openingsjaar 1930s[2]
Bestuursliggaam SANParke
Webblad www.sanparks.org/parks/kruger/camps/lower_sabie/
'n Kaart van die ruskamp se uitleg.

Onder-Sabie is 'n groot ruskamp in die Krugerwildtuin aan die suidelike oewer van die Sabierivier, omtrent in die middel van die suidelike deel van die park. Dit is verbind aan die hoofkamp Skukuza deur die H4-1 teerpad (43 km), gereken die besigste roete in die wildtuin, veral gedurende naweke en skoolvakansies.

Onder-Sabie het 'n gedaanteverwisseling ondergaan sedert die vorige restaurant afgebrand het, ten spyte daarvan dat dit een van die oudste kampe in die park is. 'n Moderne restaurant en nuwe winkel is gebou, en die kamp het 'n paar safaritente wat dit die gevoel van 'n Afrikaboskamp gee. Die kamp is op die oewer van die standhoudende Sabierivier uitgelê en besoekers kan in hul gemakstoele op die groot restaurantstoep sit en die groot aantal wild by die rivier besigtig.

Natuurlewe

[wysig | wysig bron]

In hierdie ruskamp is die oorvloed en volheid van die natuur baie duidelik, welsprekend gesimboliseer deur die mees opvallende van sy talle bome, die magtige plataanvy, wat ruim voorsiening maak vir die lewensonderhoud van baie voëls en insekte. Nie net produseer hierdie reuse ten minste twee keer per jaar vrugte nie, maar verskillende bome produseer vrugte op verskillende tye, wat die gawes van die lewe oor baie maande uitbrei. Om die eindelose optog van diere te aanskou wat by die Sabierivier kom drink, vestig 'n gevoel van 'n mens se eie plek in die ewige siklus.

Akkommodasie

[wysig | wysig bron]
Skaduryke stoepe en parkeerplek tussen die rondawels van Onder-Sabie ruskamp
Vroegoggend by Sunsetdam digby Onder-Sabie

Volop oornagplek is beskikbaar op 'n selfsorgbasis, in 30 hutte en 62 bungalows, sowel as een groot gastehuis. Kampeerders wat die buitelewe verkies, het 'n keuse van staanplek vir 33 woonwaens en tente, almal toegerus met elektriese kragpunte; of een van die 24 safaritente wat met onder andere twee kampbeddens, stoele, 'n yskas en 'n dakwaaier gemeubileer is.[3]

Ander geriewe

[wysig | wysig bron]

Onder-Sabie het 'n aparte area vir dagbesoekers, indien hulle wil braai of swem by die kamp. Daar is ook 'n paar piekniekplekke op die paaie, bv. Nkuhlu (± 20 km), die Mlondozi-dam (17 km) en Tshokwane (43 km).

Die kamp bied begeleide staptogte, wildbesigtiging met 'n oop voertuig asook 'n braai-in-die-bos.

Gesondheidsrisiko

[wysig | wysig bron]

Die tropiese siekte malaria kom in die laeveld voor, en besoekers moet die nodige voorsorg daarteen tref. 'n Dokter, apteker of reisburo kan vooraf geraadpleeg word.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "Worldwide Elevation Finder". elevation.maplogs.com. Besoek op 4 Januarie 2020.
  2. "Lower Sabie, Kruger National Park, Limpopo". www.africastay.com. Besoek op 4 Januarie 2020.
  3. SANParke se webtuiste - Onder-Sabie